Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 45

Vrydag 7 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 27:9-21

Оглавление

Laat jou liggie brand

Beveel die Israeliete om vir jou besonder suiwer olyfolie vir die lampe te bring sodat die lig voortdurend kan brand. – Eks 27:20

GESELSVRAAG:

Hoe kan ons die lig vir die wêreld wees?

“Uit die ruimte kan ’n mens duidelik sien watter lande die meeste energie verbruik,” vertel ’n ruimtevaarder. En op die internet is daar saamgestelde foto’s beskikbaar waar enigiemand dit ook kan sien. Die kontinente is duidelik aan die straatligte van die stede sigbaar. ’n Mens kry dieselfde indruk wanneer jou vliegtuig in die nag by jou bestemming gaan land. Ai, as elke liggie tog net ’n gelowige ook kon verteenwoordig!

Die tabernakel het geen vensters gehad nie; daarom moes daar dag en nag lampe brand sodat die priesters hul werk kon doen. Die gewone gelowiges kon ook hul deel doen deur die gesuiwerde olie vir die lampe te skenk. In die woestyn was dit seker nie maklik nie, want daar was geen olyfbome of winkels nie. Hulle het ook nie meganiese perse gehad nie. Alles moes met die hand gedoen word.

Jesus sê Hy is die lig vir die wêreld (Joh 8:12). Net soos die olywe gepers en gesuiwer moes word voordat hulle geskik was vir diens in die tabernakel, so is Christus gekneus en gesuiwer deur lyding (1 Pet 2:21). As ons Hom wil volg, kan ons dieselfde verwag, want Hy wat in ons woon, maak ons ook die lig vir die wêreld (Matt 5:14). Maar Hy tree vandag nog vir ons in, net soos die lig in die tabernakel die Israeliete moes herinner dat God met hulle is.

GEBED:

Here, suiwer my sodat ek beter lig kan gee.

Lees vanaand in Eksodus 28:1-11 hoe die klere van die priesters moes lyk.

Uit die beek 2014

Подняться наверх