Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 47

Sondag 9 Februarie 2014 Lees eers Psalm 126:1-6

Оглавление

Ná saaityd kom oestyd

Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. – Ps 126:5

GESELSVRAAG:

Wat is die beste soort oes om voor te werk?

“Die droogte het gemaak dat daar vanjaar geen oeste was nie,” vertel iemand uit ’n buurland. “Nou moet die mense besluit wat hulle met die oorblywende saad moet maak. Moet hulle dit opeet en dan sonder saad vir die volgende seisoen sit, of moet hulle die saad nou saai en honger ly sodat hulle aan die einde van die seisoen ’n oes kan hê?” Ons kan dus verstaan hoe so iemand met trane kan saai.

Hierdie pelgrimslied verwys waarskynlik na die tyd toe die Israeliete uit die ballingskap teruggekom het. Hulle moes kies tussen saai en eet. Dit was vir hulle groot blydskap dat hulle kon terugkeer na hul eie land. Maar toe het die wrede werklikheid hulle in die gesig gestaar. Die lande moes weer van voor af geploeg word. Daar was nie saad uit ’n vorige oes beskikbaar nie. Die saad wat hulle vir padkos ingepak het, moes nou gesaai word as hulle ’n oes wou hê. Dit was ’n moeilike keuse.

Daar is egter ook ’n ander soort oes: siele. Dit is nie net die dominee wat daaroor besorg moet wees nie. Elke gelowige moet ’n hart hê vir mense wat verlore gaan. Dit is eers wanneer ons werklik begin huil oor hulle – nie net ons eie kinders en familie nie, maar ook die ander mense – dat ons iets daaraan sal begin doen om die goeie nuus met hulle te deel. God wil ons vandag daarvoor toerus.

GEBED:

Hemelse Vader, gee my u hart vir verlore mense, sodat ek sal opoffer om ’n groot oes te verseker.

Lees vanaand in Psalm 127:1-5 waarom God ’n plek in elkeen van ons planne en ondernemings moet hê.

Uit die beek 2014

Подняться наверх