Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 62

Maandag 24 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 37:17-29

Оглавление

Een kosbare eenheid

Al hierdie voorwerpe is uit vier en dertig kilogram suiwer goud gemaak. – Eks 37:24

GESELSVRAAG:

Wat het ons wat van suiwer goud gemaak is?

“Die kontakpunte van hierdie kabel is met goud oorgeblaas om goeie kontak te verseker; daarom kan jy verseker wees van ’n goeie beeld,” verduidelik die verkoopsman by die elektroniese winkel. Omdat goud nie oksi­deer nie, is dit die beste manier om oksidasie te voorkom; daarom word die gesig­skerms van die helms wat ruimtevaarders dra ook met goud oorgeblaas. Dit is om hul oë teen direkte sonstrale te beskerm. Goud is egter ’n baie sagte materiaal; daarom word dit gewoonlik met ander metale gemeng om dit sterker te maak.

Slegs die egte dinge is egter goed genoeg vir die diens van die Here. Die kandelaar is nie van hout gemaak en met ’n dun lagie goud oorgetrek nie. Dit is uit soliede suiwer goud gemaak. Wee die arme Leviet of priester wat hierdie stukkie gereedskap oor die lang woestynmyle moes dra. Dit was swaar! Dit was egter ’n kunswerk – jy het seker opgelet hoe pragtig dit versier is. Niks is vasgeskroef of vasgeplak nie. Alles is aanmekaar gesmee om ’n eenheid te vorm. Dit was gebou om te hou.

Kom ons dink nou aan ons eie gawes aan die Here. Gee ons ook ons beste en suiwerste? Is ons self deur en deur aan die Here toegewy, of is ons dalk net met ’n lagie vroomheid bedek? Hoe lyk ons waar mense nie kan sien nie?

GEBED:

Here onse God, ek wil my beste volledig aan U wy.

Lees vanaand in Eksodus 38:1-8 hoe Besaleël volstoom begin werk het om te doen wat die Here hom voorgesê het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх