Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 55

Maandag 17 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 33:1-11

Оглавление

Hoe hoor ek God se wil?

[…] Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. – Eks 33:7

GESELSVRAAG:

Hoe weet ons wat God se wil vir hierdie week is?

“Wat sê God oor hierdie saak?” wou die een Arabiese leier na die ander van een van ons vriendinne weet. Sy het jare lank reeds in hul land gewoon en hulle het agtergekom God praat met haar. “Vra Hom self,” het sy dikwels aanbeveel, maar hulle het Hom nie geken nie. Maar hulle het haar vertrou, al het hulle geweet sy is ’n Christen. Sy het ’n lewende verhouding met God gehad, en hulle het dit geweet; daarom het hulle haar raad gesoek.

Moses het ’n spesiale tent ver buite die kamp gaan opslaan. Dit was nog nie die tabernakel nie, want dit was nog nie gemaak nie. Hy het dit die Tent van Ontmoeting genoem. Wanneer iemand na God se wil gesoek het, het hulle daarheen gegaan. Moses was hulle tussenganger en het God se wil aan hulle bekend gemaak. God het met hom gepraat soos met ’n vriend (Eks 33:11). Ons lees dat die volk soveel respek vir daardie ontmoeting gehad het, hulle het op aandag gestaan wanneer Moses daarheen gegaan het (Eks 33:8).

Vandag het ons Moses nie meer nodig nie. Die Here Jesus het die pad vir ons oopgemaak sodat ons direk met Hom kan praat. Ons probleem is dikwels by die luister. Wat sê Hy vir my? Hy praat deur sy Woord, sy Gees, omstandighede en ander gelowiges. Kom ons luister mooi hierdie week.

GEBED:

Help my om u stem te ken en u wil te doen.

Lees vanaand in Eksodus 33:12-23 hoe Moses vir die volk ingetree het totdat die Here beloof het om Self saam met hulle te trek.

Uit die beek 2014

Подняться наверх