Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 43

Woensdag 5 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 26:1-13

Оглавление

Draagbare tempel

Jy moet ’n tabernakel maak […] – Eks 26:1

GESELSVRAAG:

Hoe kan ons die kerk vandag meer beweeglik maak?

“Die probleem met vandag se gelowiges is hulle dink die kerk is iets om na heen te gaan in plaas van iets om te wees,” lees ek op die internet. Dit is nogal iets om oor na te dink. Ons moet nie die kerk met die kerkgebou verwar nie. Die kerk het nie ’n gebou nodig nie. Waar is die kerk op Maandae? In die winkels en kantore en in die landerye en boorde. Die kerk is baie beweeglik, want elke gelowige is deel van die liggaam van Christus op aarde.

Die tabernakel, as voorloper van die tempel, moes kon beweeg. Die volk was nog op pad na die beloofde land. Hoe kon hulle weet die Here is met hulle? Die tabernakel was die simbool. ’n Noukeurige studie van die uitleg van die tabernakel wys dat elke deel na Christus vooruit gewys het. Die volk het nooit in die tabernakel bymekaargekom soos in vandag se kerkdienste nie. Net Moses en die priesters kon daar ingaan. Dit was die plek van ontmoeting. Daar het hulle die boodskap gekry wat hulle aan die volk moes gaan oordra.

Orals waar ons vandag gaan beweeg, sal die kerk ook wees. Christus wil deur elkeen van ons werk. Sy liefde moet in ons sigbaar word. Die ongelowiges sal Hom beoordeel deur elke woord wat ons vandag gaan sê, deur ons gesindheid en deur ons dade. Dit is waarom ons elkeen ook ’n plek van ontmoeting nodig het waar ons vir die dag voorberei kan word.

GEBED:

Gee dat mense u kerk in my kan sien, Here.

Lees vanaand in Eksodus 26:14-25 oor die houtraamwerk wat ’n mens moes kon uitmekaar haal om vervoer te word.

Uit die beek 2014

Подняться наверх