Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 31

Saterdag 25 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 18:1-12

Оглавление

Ons dien die Here saam

[…] Nou besef ek dat die Here groter is as enige ander god, want toe die Egiptenaars vermetel teen die volk van die Here opgetree het, het Hy hulle uit Egipte se mag bevry. – Eks 18:10

GESELSVRAAG:

Hoe kan ons vir ons skoonfamilie tot seën wees?

“Ek het my skoonma as voëlverskrikker in die boord gebruik, en die voëls het so geskrik dat hulle die helfte van laas jaar se oes teruggebring het,” vertel ’n grapmaker. Skoonouers word nie altyd waardeer nie. Moses kon egter dankbaar wees vir sy skoonpa. Veertig jaar lank het hy veilig by dominee Jetro gewoon en met sy dogter Sippora getrou. Toe die gevaar in Egipte gedreig het, het hy sy vrou en kinders na haar pa teruggestuur en hulle is die hele tyd daar goed versorg.

Toe het Jetro Moses se vrou en kinders na hom toe teruggebring waar hy in die woestyn kamp opgeslaan het. Hy het gerugte gehoor van wat God alles vir hierdie volk gedoen het, en nou kon hy die verhale eerstehands hoor. Dit het hom daarvan oortuig dat die God van Israel die enigste ware God is. Hy het selfs ’n offermaaltyd gereël waarheen hy ook die ander leiers van Israel genooi het.

Getroude mense kom nie altyd goed klaar met hul skoonfamilie nie. Ons kan dankbaar wees as dit met ons verhoudings goed gaan. Dit is heerlik om as groter familie die Here saam te dien en mekaar te vertel wat die Here in ons lewe gedoen het. So bemoedig ons mekaar op die pad van die Here.

GEBED:

Dankie vir my skoonfamilie wat soveel vir my doen.

Lees vanaand in Eksodus 18:13-27 watter goeie raad Jetro vir Moses gee om sy werklas kleiner te maak.

Uit die beek 2014

Подняться наверх