Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 22

Donderdag 16 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 12:29-40

Оглавление

Die groot trek begin

[…] Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! […] En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan. – Eks 12:31-32

GESELSVRAAG:

In watter opsigte is ons ook op reis?

“Wagenmakersvallei” is die vallei genoem waar Paarl en Wellington vandag lê. Die spoorlyn het op Wellington geëindig. Hiervandaan moes alles op ossewaens die berge oor en die binneland in. Die Groot Trek moes hier begin het.

Die farao het toe uiteindelik besef dat die God van Israel nie iemand is met wie jy kan speel nie. Elke woord van God het waar geword. En elke keer wanneer Moses gebid het, het dinge gebeur. Die farao het in die krag van gebed begin glo; daarom het hy oulaas vir Moses gevra om ook vir hom te bid. Ons lees ook dat ’n menigte mense van ander afkoms ook saamgegaan het, net soos die Groot Trek nie net ’n paar Afrikaners was nie. Vir Moses het die groot toets toe begin. Met 600 000 weerbare mans (Eks 12:37) moes die trekgroep seker by die twee miljoen mense gewees het! Waar sou hulle water en kos kry? Die silwer en goud van die Egiptenaars sou kon help, maar waar was die winkels in die woestyn waar hulle kos kon koop? Elke tree was ’n uitdaging. Hoe vervoer jy so baie mense en goed?

Ons is almal vandag nog net op trek. Hierdie wêreld is nie ons woning nie, herinner Totius ons. Ons is op pad na ons eintlike huis – by ons hemelse Vader. Ons moet dus nie te vas raak aan dinge wat moet agterbly nie.

GEBED:

Dankie dat U elke tree van die pad saam met ons gaan.

Lees vanaand in Eksodus 12:41-51 hoe hierdie verhaal eeue daarna nog elke jaar oorvertel is.

Uit die beek 2014

Подняться наверх