Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 33

Maandag 27 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 19:1-13

Оглавление

Gewyde nasie

As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie […] – Eks 19:5

GESELSVRAAG:

Wanneer kan ons sê dat ons ’n gewyde nasie is?

“Ons is die geestelike Israel,” het baie van die Voortrekkers geglo toe hulle destyds Afrika ingetrek het. Toe hulle ’n rivier raakloop wat noord vloei, het hulle gedink dit is die Nyl – vandaar die naam Nylstroom. Hulle was op pad na die nuwe Jerusalem. Hulle was God se uitverkore volk. In ’n sin is dit tog van ons ook waar.

Vandag se vers is die hart van die tweede gedeelte van die boek Eksodus. Waar ons tot dusver net van die avonture van die Israeliete gelees het, lees ons nou hoe God die klompie ontsnapte slawe saamgevoeg het om die volk van God te wees. Die meeste van hulle was afstammelinge van Jakob, maar daar was ook baie uit ander volke wat by hulle aangesluit het. Hierdie nuwe volk moes sy instrument wees deur wie die Here na die hele wêreld wou uitreik.

Petrus verwys na hierdie gedeelte wanneer hy skryf: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God” (1 Pet 2:9-10). Elkeen wat aan die Here behoort, is deel van ’n nuwe volk – sy volk.

GEBED:

Here God, maak ons getrou aan U om u volk te wees.

Lees vanaand in Eksodus 19:14-25 hoe skrikwekkend God is wanneer Hy sy majesteit openbaar.

Uit die beek 2014

Подняться наверх