Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 27

Dinsdag 21 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 15:10-19

Оглавление

Wie is soos die Here?

Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade! – Eks 15:11

GESELSVRAAG:

Watter lied ken jy wat ’n Bybelstorie vertel?

“In Afrika kan ’n lied amper spontaan ontstaan,” vertel ’n sendeling. “In een kerkraadsvergadering het die skriba sy notuleboek vergeet, toe begin die ander spontaan ’n lied daaroor komponeer en sing.” So het ons in Chicago verstom geluister hoe ’n blinde musikant tydens ’n diens oombliklik enige kerkganger se getuienis in ’n lied omskep het. En die musiek het by die woorde gepas. Dit is net die Here wat so iets moontlik kan maak.

Moses en Miriam het dadelik ingeval met ’n lied, en die volk het die refrein oorgeneem. Tipies soos in Afrika het Miriam en die vroue die ritme met tamboeryne en dans aangegee. Oor en oor is die lof van die Here besing, totdat elke Israeliet die lied goed geken het. Dit sou hulle help om dié gebeurtenis te onthou en aan hul nageslag oor te vertel.

In die lied word ook genoem hoe hierdie lied deur die omringende volke gehoor is en hulle van angs laat bewe het (Eks 15:16). Ons kan ons voorstel hoe hierdie groot massa mense deur die woestyn getrek het en hierdie lied oor en oor gesing het. Skrikwekkend! Hierdie mense se God is onstuitbaar! En daardie God is dieselfde God wat ons vandag nog in ons lofsange dien.

GEBED:

Gee vir my ’n nuwe lied om U mee te loof, Here.

Lees vanaand in Eksodus 15:22-27 hoe die Here in die woestyn in die nood na water voorsien het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх