Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 32

Sondag 26 Januarie 2014 Lees eers Psalm 122:1-9

Оглавление

Bly om kerk toe te gaan

Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe.” – Ps 122:1

GESELSVRAAG:

Hoekom gaan mense nie altyd graag kerk toe nie?

“Ná die tweede groot herlewing op Wellington was die kerk heeltemal te klein. Hulle moes toe die twee vleuels aanbou en die kerk se dak lig om plek te maak vir drie galerye.” Mense het graag na die bekende dr. Andrew Murray gaan luister. Nadat hy lank met sy stem gesukkel het, het die Here hom aangeraak en hom ’n kragtige stem gegee wat die groot kerkgebou gevul het sonder die hulp van luidsprekers. Hoe anders is ons kerkbesoek vandag in die meeste gemeentes!

In vandag se pelgrimslied sing die volk hoe graag hulle Jerusalem toe gegaan het. Dit was heerlik om ná die lang reis saam met die ander gelowiges te vergader en die Here te dien. Die lied is ook ’n gebed vir die vrede in Jerusalem, omdat die Here daar gedien word.

Ons hoef nie meer Jerusalem toe op te trek om die Here te dien nie. Hy het elkeen van ons sy tempel gemaak (1 Kor 3:16). Tog moedig die Bybel ons aan om nie die onderlinge byeenkomste mis te loop nie (Heb 10:25). Jesus het die gewoonte gehad om elke sabbat na die sinagoge toe te gaan (Luk 4:16). As jy ’n volgeling van Jesus is, sal jy Hom ook na die byeenkomste moet volg tensy dit weens omstandighede onmoontlik geraak het.

GEBED:

Here, ek wil U gereeld saam met ander gelowiges ontmoet.

Lees vanaand in Psalm 123:1-4 hoe die pelgrim sy gedagtes op die Here gefokus het totdat sy gebede verhoor is.

Uit die beek 2014

Подняться наверх