Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 24

Saterdag 18 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 14:1-14

Оглавление

Die Here red

Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg. – Eks 14:14

GESELSVRAAG:

Wanneer was jy baie bang? Wat het toe gebeur?

“Die nag is op sy donkerste net voor die dag breek,” sê die spreekwoord. Meer as een van ons sal onthou van ’n tyd in ons lewe toe die Here op ’n wonderlike manier die uitkoms gegee het nadat ons reeds moed opgegee het.

Die Israeliete se blydskap het skielik in angs omgeswaai toe hulle agterkom die Egiptiese leër is op hul spoor. Daar was dadelik ’n klompie wat Moses aangevat het. Dit was sý skuld dat alles nou verkeerd geloop het. Waarom wou hy dan ’n ompad neem in plaas van die direkte roete na die beloofde land? Waarom was hulle nou op die strand van die see vasgekeer met vyandige soldate in aantog? Skielik was die slawerny in Egipte baie aantreklik. Hulle het nie besef dat die Here steeds agter die skerms besig was nie. Dit was Hy wat die farao se hart verhard het (Eks 14:4). Hy wou die Israeliete leer om Hom in die moeilikste omstandighede te vertrou. Die Israeliete sou dus die aas wees om die Egiptiese leër te vernietig. “Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is” (Eks 14:4).

Was jy al ooit in groot nood? Of lyk dinge miskien vandag vir jou donker? Moenie bang wees nie. Bly kalm. Die Here sorg vir sy kinders. Vertrou op Hom. Wat met ons gebeur, is net ’n klein deeltjie van ’n baie groter prentjie. God het jou lief!

GEBED:

Here, ek vertrou U in alle omstandighede – of dit nou goed gaan of sleg. U weet wat vir ons die beste is.

Lees vanaand in Eksodus 14:15-25a hoe die Here ’n hoofweg deur die see voorsien het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх