Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 29

Donderdag 23 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 16:22-30

Оглавление

God se dag

Die volk het op die sewende dag gerus. – Eks 16:30

GESELSVRAAG:

Hoe kan ons ons rusdag reg deurbring?

“Hoe moet ek lewe om ouer as honderd jaar te word?” is deur ’n span weten­skaplikes nagevors. Hulle het gevind daar is vier plekke op aarde waar mense baie oud word. Hulle het gekyk na hul kultuur, hul voedsel, hul werk en hul motivering. Een van die groepe was Sewendedagadventiste in Wes-Amerika. Die navorsers was oortuig daarvan dat hul noukeurige gebruik van die rusdag een van die geheime is van hul lang lewe. Hulle het net noodsaaklike werk gedoen en verder gerus of in groepe in die natuur gaan stap.

Die rusdag is een van die groot tekens van gehoorsaamheid. Dit is een van die Tien Gebooie. Maar selfs voor die gebooie gegee is, wou die Here die volk leer om een dag in die week aan Hom af te staan. Dit het Hy gedoen deur op daardie dag geen manna te voorsien nie. Maar die vorige dag was daar dubbel soveel as gewoonlik. Hulle kon dus rus en tyd maak om die Here beter te leer ken. Dit is vir hulle en die Here belangrik.

Deesdae het die Sondag die sportdag, inkopiedag en plesierdag geword. Mense kry nie meer die rus wat die Here in ons liggame ingebou het nie. Die dag van die Here is bedoel om ons geestelik op te bou. Dit is die geleentheid om saam te kom en die Here beter te leer ken. Ons kry ons toerusting en opdrag vir die week wat voorlê. Hoe lyk jou rusdag?

GEBED:

Ek wil graag my rusdag aan U wy, Here.

Lees vanaand in Eksodus 16:31-36 hoe die Here die volk veertig jaar lank in die woestyn gevoed het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх