Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 25

Sondag 19 Januarie 2014 Lees eers Psalm 120:1-7

Оглавление

Gebed werk!

In my nood het ek na die Here geroep en Hy het my gebed verhoor. – Ps 120:1

GESELSVRAAG:

Vertel van ’n keer dat die Here uitkoms gegee het.

“Ek het van my land af na Suid-Afrika gevlug omdat hulle my wou doodmaak,” vertel ’n Kongolese vlugteling in ’n program oor xenofobie op die TV, “en noudat ek hier is, word ons deur Suid-Afrikaners aangeval. En dit nadat ons hulle skuiling gegee het toe hulle self in gevaar was.”

Psalm 120–134 word in die Bybel pelgrimsliedere genoem. Hulle is waar­skynlik gesing terwyl die pelgrims op pad was na Jerusalem. Net soos die dreunsang van vandag se toi-toi het die sang hulle gehelp om ’n lang tyd uit te hou. Hulle moes baie kilometers op gevaarlike roetes stap. Dus het hulle die hele pad in groepe saam gestap en gesing. Dawid vertel in hierdie psalm hoe hy as vreemdeling in gevaar gebly het, sonder die ondersteuning van sy eie mense om hom te beskerm. Sy ervaring was baie soos dié van die immigrante in ons land wat hier as bedreigings beskou word.

Ons almal ken sulke tye. Wanneer jy as kind in ’n vreemde skool instap en jy hoor die agteraf opmerkings of jy loop deur onder die skool se boelies, is dit niks lekker nie. Wanneer jy by ’n nuwe werk begin, of na ’n ander land gestuur word of emigreer, dan is die eerste ruk dikwels baie moeilik. Dan help dit om die Here te ken. Jy kan na Hom roep. Hy sal verhoor.

GEBED:

Here, bewaar my elke dag teen gevare en versoekings.

Lees vanaand in Psalm 121:1-8 waar ons hulp vandaan kom wanneer die gevaar ons bedreig.

Uit die beek 2014

Подняться наверх