Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 42

Dinsdag 4 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 25:1-22

Оглавление

Plek van ontmoeting

Dáár sal Ek jou ontmoet […] Al my bevele vir die Israeliete sal Ek jou van daar af gee. – Eks 25:22

GESELSVRAAG:

Waar is ons plek van ontmoeting met die Here?

“Dominee, ek het probleme gehad met dwalende gedagtes as ek probeer bid. Toe dink ek daaraan dat God mos alomteenwoordig is. Dan is Hy mos op hierdie stoel ook,” en hy wys na die stoel langs sy bed. “Ek praat dus elke dag met Hom hier. Dit is my plek van ontmoeting.” ’n Paar weke later is oom Petrus oorlede. Sy dogter vertel dat hulle hom gekry het waar hy met sy een arm na die stoel toe uitgestrek gelê het asof hy iemand groet.

Moses het die Here op die berg ontmoet, en veertig dae lank het hy presies gehoor hoe die tabernakel moes lyk. Dit sou die plek van ontmoeting wees wat saam met die Israeliete sou trek. Op elke plek waar hulle gekom het, sou die Here hulle lei deur in die tabernakel met Moses te praat. Die Here het met Moses gepraat soos ’n vriend met sy vriend praat. Wat ’n voorreg.

“Ma se groen stoel,” het Evelyn Christensen se kinders die stoel genoem waarby sy elke dag gekniel het om te bid. Deur die jare het die stoel verskillende kleurskakerings ondergaan, maar dit het maar “die groen stoel” vir haar kinders gebly. Dit was haar plek van ontmoeting met die Here. Het jy ook so ’n spesiale plek van ontmoeting? Dit word vertel dat John Wesley se ma met agtien kinders sommer langs die kombuistafel haar voorskoot oor haar kop getrek het om te bid!

GEBED:

Here, ek het ook ’n plek van ontmoeting met U nodig.

Lees vanaand in Eksodus 25:23-40 hoe Moses gehoor het hoe die meubels van die tabernakel moes lyk.

Uit die beek 2014

Подняться наверх