Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 23

Vrydag 17 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 13:1-16

Оглавление

Onthou wat God gedoen het

Soos ’n teken op die hand en ’n merk op die voorkop moet dit julle daaraan herinner dat die Here ons […] bevry het. – Eks 13:16

GESELSVRAAG:

Hoe kan ons ons verhale vir die nageslag bewaar?

“Die afsterwe van ’n ou mens is net soos die afbrand van ’n biblioteek,” het Amadou Hampâté Bâ uit Mali geskryf. En elke tehuis vir bejaardes is gevul met die pragtigste stories wat, helaas, die een na die ander uitgewis word wanneer niemand dit aanteken nie. “Ai, hoekom het ek nie my ouma uitgevra toe ek nog die kans gehad het nie,” sug Wena nou die dag.

Vir Israel kon al hierdie wonderlike verhale van die eksodus so maklik tot niet gegaan het as niemand dit neergeskryf het nie. Maar die Here het dit laat aanteken en dit vasgeanker met twee ankers sodat die nageslag ook sy groot dade sou leer ken. Die een was die jaarlikse Paasfees om hulle te herinner aan die uittog uit Egipte, en die ander was die wyding aan God van elke manlike eersgeborene. In die geval van ’n dier was die dier as brandoffer aan God teruggegee, tensy dit onrein was, soos ’n donkie. Dan kon hy deur ’n ander dier of geld losgekoop word. In die geval van mense was die loskoop van die seuntjie verpligtend. Die seun is op die ouderdom van een maand met 55 g silwer losgekoop (Num 18:16).

Hierdie beginsel van algehele wyding en die loskoop van ’n lewende deur ’n plaasvervanger help ons om Golgota te verstaan. Jesus het ons losgekoop van die vloek van die wet (Gal 3:13).

GEBED:

Dankie, Jesus, dat U ons losgekoop het van die dood.

Lees vanaand in Eksodus 13:17-22 hoe die Here dag en nag leiding aan die Israeliete gegee het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх