Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 40

Sondag 2 Februarie 2014 Lees eers Psalm 124:1-8

Оглавление

Die Here help

Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. – Ps 124:8

GESELSVRAAG:

Waar voel jy veilig?

“It’s a jungle out there!” het die hoof van die polisie van ’n gewilde TV-sepie altyd sy personeel herinner. Hoewel hulle in ’n groot stad gewerk het, het dit nie die gevare minder gemaak nie. Hulle kon net sowel iewers in ’n gevaarlike oerwoud gewerk het. Elke koerant en nuusberig herinner ons daaraan dat dit net so waar van ons eie land is, maak nie saak waar jy woon nie. Ons is daagliks in lewensgevaar, of ons nou in die stad, op die platteland of op ’n plaas woon.

Die pelgrims wat op pad na of van Jerusalem hierdie lied gesing het, kon ook getuig dat die Here hulle op hul pad bewaar het. Daar was baie gevare op die pad. Hulle is deur rowers aangeval, maar die Here het hulle teen die kwaaddoeners beskerm; daarom sing hulle hierdie lofpsalm. Hulle het geweet waar hul hulp vandaan gekom het en ook in die toekoms sou kom.

Waar is die veiligste plek om vandag te wees? Statisties is dit seker in die kerk. Vra maar die versekeringsmaatskappye hoeveel mense in die kerk sterf! Die gevaarlikste plek om te wees, is in die bed – verreweg die meeste mense sterf daar! Maar die grootste gevaar van almal is nie die dood van ons liggaam nie – dit is om ons ewige bestemming mis te loop. Ons moet vandag seker maak dat ons gereed is vir die finale reis na die ewigheid. Dalk sal vandag se erediens jou help.

GEBED:

Here, net U kan ons veilig na die ewigheid neem.

Lees vanaand in Psalm 125:1-5 waarom dit belangrik is om volledig op die Here te vertrou.

Uit die beek 2014

Подняться наверх