Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 41

Maandag 3 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 24:1-8

Оглавление

Beloftes, beloftes

Hulle het soos een man gesê: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het.” – Eks 24:3

GESELSVRAAG:

Watter beloftes het ons al aan die Here gemaak?

“Belowe jy … ?” begin die gelofte wat ons elkeen maak as ons belydenis van geloof aflê, of in die huwelik tree, of ons kinders bring om gedoop te word. Daar is ook so baie ander geleenthede waar ons dinge aan die Here belowe. Ongelukkig vergeet ons so gou presies wat ons belowe het. Die meeste van die katkisante makeer in die erediens die Sondag ná hul geloofsbelydenis. ’n Baie groot persentasie van huwelike beland op die rotse weens die ontrou van een of albei van die bruidspaar. Ons belowe om ons kinders vir die Here groot te maak, maar vergeet om elke dag huisgodsdiens te hou en om elke Sondag ons kinders kerk toe te lei. Ons vergeet dat ons woorde en ons voorbeeld deur die week so maklik ons kinders van die Here af weglei.

Die Here het vir Moses, Aäron en sy twee seuns en sewentig ander leiers van Israel genooi om Hom op die berg te ontmoet. Hy wou ’n verbond met hulle sluit om te verseker dat hulle sy gebooie sal gehoorsaam. Hulle het dadelik belowe om dit te doen. Beloftes is maklik. Ongelukkig het hulle so gou vergeet wat hulle belowe het, soos ons nog sal sien.

Wat wil jy vandag vir die Here belowe? Bedoel jy dit? Sal jy dit werklik doen?

GEBED:

Here, help my om my beloftes ten volle te hou.

Lees vanaand in Eksodus 24:9-18 hoe die groep verteenwoordigers iets van God se majesteit ervaar het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх