Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 26

Maandag 20 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 14:25b-31

Оглавление

Die bewys

Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar. – Eks 14:31

GESELSVRAAG:

Hoe sou jy gevoel het as jy daar was?

“Prys die Here!” roep die pas bekeerde jong man op die trein uit. Toe sy medepassasier hom vra wat aangaan, vertel hy dat hy besig is om die Bybel te lees, en hier in Eksodus 14 lees hoe die Here ’n pad deur die see gemaak het. “Nee, man, dis geen wonderwerk nie, ek was self daar by die Rietsee, die see is net enkeldiep,” verduidelik sy nuwe vriend. “O.” Hy lees toe verder. “Prys die Here!” roep hy weer. “Wat nou?” vra sy vriend. “Ek lees nou net hoe die hele Egiptiese weermag in enkeldiep water verdrink het!”

Vir die Israeliete was daar geen twyfel dat die Here ’n wonder gedoen het nie. Om so baie mense in een nag deur die Rietsee te neem, moes hulle duisende langs mekaar gestap het. Die wolk het hulle beskerm, sodat daar lig was aan hulle kant maar duisternis aan die Egiptenare se kant. En toe die soldate hulle wou agtervolg, het hul strydwaens vas geval. Die wiele val uit. Paniek het onder die soldate los gebreek en hulle het probeer omspring, maar die massas water het hulle en hul diere oorstroom. Met hul pantserdrag kon hulle nie swem nie. En die Israeliete het in verbasing gestaan en kyk hoe die Here hul stryd vir hulle stry. Waarlik, God is die God van wonders.

GEBED:

Dankie dat U nog net so magtig is soos in daardie tyd, Here. Dra ons ook deur hierdie jaar se uitdagings.

Lees vanaand in Eksodus 15:1-9 die eerste deel van Moses se lied om die Here te dank vir wat Hy gedoen het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх