Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 21

Woensdag 15 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 12:1-13

Оглавление

Veilig deur die bloed

Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ’n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan […] – Eks 12:13

GESELSVRAAG:

Hoe probeer ons ons huismense beveilig?

“Ons het probeer om ons huis kindveilig te maak, maar hulle het nog steeds ingekom,” skerts ’n vriendin. Ja, ons maak seker dat elke venster diefwering het, dat die swembad omhein en deur ’n veiligheidsnet bedek is, dat aardlekkasieskakelaars verseker dat niemand doodgeskok kan word nie, dat die huis orals paniekknoppies het, en dat die matte nie kan gly nie. Ons filter ons water en hang brandblussers op strategiese plekke. Ons gee om vir ons gesinne. Ons motors het veiligheidsgordels, lugsakke en ABS-remme. Maar wat doen ons om ons mense vir die ewigheid te beveilig?

Moses se voorbereiding vir die tiende plaag was noukeurig uitgespel, soos ons gelees het. Die bloed van die lammetjies sou veiligheid verseker. Die voorbereidings het hulle dae lank geneem. Hierdie Paasfees sou weer en weer herhaal word totdat die finale Paaslam geslag sou word. Die Paasfees was vir die hele volk. Almal het dit op dieselfde aand saam gevier. Almal, van klein tot groot, was deel daarvan. Die bloed aan die deurkosyn sou die teken wees dat hierdie huismense beveilig is. Die oordeel van God sou hulle oorslaan.

So vier ons vandag nog saam die Paasfees. Elke nagmaal is opnuut ’n herinnering dat Jesus sy bloed aan die kruis gestort het sodat God se oordeel ons kan oorslaan.

GEBED:

Dankie, Here Jesus, dat U ons almal se Paaslam was.

Lees vanaand in Eksodus 12:14-28 hoe die Paasfees herhaal sou word tot Christus die finale Paaslam sou wees.

Uit die beek 2014

Подняться наверх