Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 9

Vrydag 3 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 3:1-12

Оглавление

Jy kan ook help

[…] Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor […] Daarom stuur Ek jou na die farao toe […] – Eks 3:7,10

GESELSVRAAG:

Wat behoort in ons omgewing te verander? Deur wie?

“Iemand moet iets daaraan doen,” brom tant Lettie in ’n gesprek oor alles wat in ons dorp verkeerd is. Dit is korrek. Jy is ook iemand. Dit is wonderlik om te hoor watter wonderlike dinge deesdae gebeur as gewone gelowiges bewus raak dat hulle ook “iemand” is. God gebruik hulle om wonders te doen. God werk deur mense. Hy rus ons toe en Hy wil beheer oorneem om ons lewe te gebruik soos Hy dit beplan het.

Moses was lankal bewus van dinge wat in Egipte verkeerd is. Hy het gesien hoe sy volksgenote mishandel word. Hy het woedend geword toe hy ’n Egiptenaar sien onreg pleeg. En toe pleeg hy self moord. Iemand wat so kort van draad is, is nog nie bruikbaar nie; daarom moes hy veertig jaar lank gaan skape oppas om geduld te leer. Toe eers kon die Here hom gebruik. God het die Israeliete se gebede verhoor, maar het eers tyd nodig gehad – tagtig jaar! – om die regte mens daarvoor voor te berei.

Die kerk is God se liggaam op aarde. Hy wil deur ons werk. Elke gelowige het ’n plek in God se plan. Kyk ’n bietjie terug op jou lewenspad. Waarvoor het die Here jou voorberei? Waar pas jy die beste in? Is jy gereed vir jou eintlike roeping?

GEBED:

Hier is ek, Here, gebruik my ook vanjaar.

Lees vanaand in Eksodus 3:13-22 waarom ons elkeen moet seker maak wat presies die Here se roeping vir ons is.

Uit die beek 2014

Подняться наверх