Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 3

Voorwoord

Оглавление

Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal om die beurt ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer. As jy al vyf jaar in die siklus saam met ons gestap het, het jy al 66 boeke in die Bybel van voor tot agter deurgelees. Dit is daarom belangrik om ook die aand-gedeelte elke dag te lees.

Gebruik asseblief die Gebedsgids in hierdie boek om jou te help om elke dag sinvol voorbidding te doen, sonder om in dieselfde rympie te verval.

Ds. A.J. van Wijk sr. het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit Uit de Beek genoem, na aanleiding van Ps 110:7 in die Nederlandse Bybel: “Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.” ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons onsself elke dag moet verfris by die vars water van die Woord vir die dag wat voorlê. Sedert 1929 is hierdie oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Hierdie is die 89ste uitgawe daarvan. En ons sal sien dat die Bybel elke dag byderwets, nuut en vars is. Die huidige skrywer is ’n kleinseun van die oorspronklike skrywer. Sy e-posadres is attie.vanwijk@gmail.com.

In die Ou Testament lees ons vanjaar deur Eksodus, Rigters, Esra, Nehemia, Prediker, Jeremia en Sagaria. In die Nuwe Testament lees ons deur Markus, 1 en 2 Korintiërs en 1 en 2 Petrus. Sondae lees ons soos gewoonlik uit die Psalms. Ons sal agterkom hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.

Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens te gebruik. Om daarmee te help gee ons elke dag ’n geselsvraag om die gesin te betrek. Dit sal julle help om die Skrifgedeelte elke dag op julself toe te pas.

Mag hierdie jaar vir jou ’n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is! Bou elke dag aan jou verhouding met Hom!

Uit die beek 2014

Подняться наверх