Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 19

Maandag 13 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 10:1-17

Оглавление

Die hele gesin dien die Here

[…] Die Here is net so min met julle as wat ek julle vrouens en kinders saam met julle sal laat gaan […] – Eks 10:10

GESELSVRAAG:

Wie van ons dien die Here voluit?

“Hier in ons gemeente is daar die probleem dat die vroue geestelik groei deur hul Bybelstudiegroepe, maar die mans bly agter. Dit bedreig sommige huwelike,” vertel die leraar van ’n plattelandse gemeente. Dit is so nodig dat die hele gesin die Here voluit dien. Die huwelik en die gesin is ’n eenheid in diens van die Here. As die pa nie voor vat nie, dan volg die gesin ook nie. Kinders leer deur voorbeeld, nie preke nie.

Die farao het toe begin besef sy land sou verwoes word as hy nie ingee nie. Sy raadgewers het toe voorgestel dat net die mans moes gaan om die Here te dien en die vroue en kinders as gyselaars aangehou moes word om te verseker dat die slawe nie ontsnap nie. Toe die farao egter hoor dat die Israeliete huitjie en muitjie wou vertrek, het hy weer omgespring en geweier om hulle te laat gaan. Die gevolg was dat ’n verskriklike sprinkaanplaag alle plantegroei in Egipte vernietig het. Die Egiptiese afgode was totaal magteloos teen die God van Israel.

In baie gemeentes het die volgorde nou omgekeer. Dit is nie die mans wat die Here dien en die vroue en kinders wat agterbly nie. Dit is die vroue en kinders wat die Here dien en die mans wat agter bly. Ons mans moet ’n slag ons prioriteite regkry en ons regte plek as priesters van die huis inneem.

GEBED:

Here God, help ons mans om reg te lei.

Lees vanaand in Eksodus 10:18-20 hoe maklik Moses die probleem kon oplos, maar die farao het koppig gebly.

Uit die beek 2014

Подняться наверх