Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 10

Saterdag 4 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 4:1-17

Оглавление

Wat het jy?

Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?” “’n Kierie,” antwoord Moses. – Eks 4:2

GESELSVRAAG:

Wat het ons reeds wat die Here kan gebruik?

“Ek is nie so ryk/slim/mooi/begaafd/vlot/geleerd soos daardie mens nie,” is die verskoning wat ons so maklik ophaal om te verduidelik waarom die Here ons nie kan gebruik nie. En dit is natuurlik bog. Moses se herders­kierie was genoeg om die Israeliete te bevry – omdat hy dit aan God gewy het. Dawid het met sy slingervel vir Goliat gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Dorkas het met haar naald en garing baie mense gehelp. Moses se klagte was dat hy gehakkel het. Jeremia was te jonk. Petrus was te voortvarend. Paulus was eers ’n Christenvervolger. Johannes was kort van draad. So kan ons aangaan. Nie een van God se helde was volmaak nie. Sy krag word in swakheid volbring.

In vandag se Skriflesing het ons gehoor hoe Moses die een beswaar ná die ander opgehaal het om te verduidelik waarom die Here liewer iemand anders moes stuur. Dit het geen indruk gemaak nie. Gód het hom vir ’n spesiale taak voorberei, en Gód sou verseker dat hy die taak kon voltooi. Dit was nooit maklik nie, en Moses was soms ook maar moedeloos en gereed om tou op te gooi. Maar agter die skerms was God aan die werk. So is Hy ook besig om vandag nog te werk. Hy het jou vir ’n spesiale taak beplan. Is jy gewillig om dit wat jy reeds het, aan Hom te wy?

GEBED:

Ek gee myself met alles wat ek het aan U, Here.

Lees vanaand in Eksodus 4:18-31 watter krisisse Moses op sy pad van gehoorsaamheid moes hanteer.

Uit die beek 2014

Подняться наверх