Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 13

Dinsdag 7 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 5:22 – 6:12

Оглавление

Waar is die Here?

Dit het Moses toe aan die Israeliete vertel, maar in hulle moedeloosheid oor die harde werk het hulle nie na hom geluister nie. – Eks 6:8

GESELSVRAAG:

Wanneer voel dit vir jou asof die Here te ver is?

“Dit voel vir my asof my gebede nie verder as die plafon gaan nie,” kla ’n groeplid. “Sit jou God dan bo-op die plafon?” vra een van haar vriendinne. Skerp! Die Here belowe tog dat Hy elke dag met ons sal wees. Christene kan weet die Drie-enige God woon in hulle. En tog moet ons so dikwels erken dat dit vir ons voel asof God nie bestaan nie. Hoekom is daar dan geen uitkoms nie? Waarom neem dinge so lank? Is daar nog enige hoop vir ons?

Dit is niks nuuts nie. Moses en sy broer het ook so gevoel. En hulle het die vrymoedigheid gehad om dit so aan die Here te sê. Die Here het hulle bemoedig en hulle verseker van sy goeie planne vir hulle, soos ons vandag gelees het. Maar toe hulle dit aan die volk oordra, wou hulle dit nie aanvaar nie. Waar is die God van wie julle praat? Kyk net hoe swaar kry ons nou as gevolg van jul inmenging. Wil julle nie maar jul bondeltjies vat en weggaan nie? Dit lyk nie asof jul God enige verskil kan maak nie.

Ons weet nie wat vanjaar vir ons wag nie. Maar ons kan van een ding seker wees: God weet, en Hy sal elke dag saam met ons ingaan. Hy nooi ons om Hom te volg. Dit veronderstel dat Hy voor ons hierdie dag ingaan. Dis ’n avontuur om saam met Hom te gaan. Kom ons geniet dié dag saam met Hom.

GEBED:

Here, dra my deur die moedelose tye.

Lees vanaand in Eksodus 6:13-26 die lys van mense wat die Here se bevryding nodig gehad het. Het jy ook ’n lysie?

Uit die beek 2014

Подняться наверх