Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 12

Maandag 6 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 5:1-9

Оглавление

Geen godsdiensvryheid

[…] Ek ken die Here nie, en ek sal Israel nie laat gaan nie! – Eks 5:2

GESELSVRAAG:

Waarom is daar soveel Christenvervolging?

“Daar sterf elke jaar 163 000 Christene vir hul geloof. Meer as die helfte van alle Christene wat vir hul geloof doodgemaak is, het in die afgelope eeu gelewe,” lees ek op die internet. Meer as 200 miljoen Christene het nie die vryheid om openlik op ’n Sondag bymekaar te kom om die Here te aanbid nie. Van die 50 lande waar daar tans die hewigste Christen-vervolging plaasvind, is meer as 80% Moslemlande. Hoekom doen mense dit?

Vandag se Skriflesing herinner ons dat die hoofoorsaak is dat die regeringsleiers nie die Here ken nie. Selfsug het baie daarmee te doen. Hulle wou nie hul slawe verloor nie. Produksie was belangriker as mense. Toe Moses en Aäron in die Naam van die Here vir vryheid gevra het, was die gevolg net groter verdrukking. Dit het hulle baie ongewild onder hul eie mense gemaak.

Paulus verduidelik dat daar agter dit alles eintlik ’n ander vyand sit. Ons vyande is nie in die eerste plek mense nie, maar bose geeste (Ef 6:12). Dit is ’n geestelike oorlog waarin ons betrokke is. Ons kan dus verwag om ook weerstand te kry as ons vanjaar aan die Here gehoorsaam wil lewe. Baie dae sal jy dalk ook so moedeloos soos Moses voel. Is dit werklik die moeite werd? Maar onthou: die oorwinning is in die Here se hand. Hy het alle mag in hemel en op aarde. Sy kant is uiteindelik die wenkant. Halleluja!

GEBED:

Help my volhard ten spyte van teenspoed, Here.

Lees vanaand in Eksodus 5:10-21 hoe moeilik dit soms is om aan God se opdragte gehoorsaam te wees.

Uit die beek 2014

Подняться наверх