Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 15

Donderdag 9 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 8:1-15

Оглавление

Die mislukking van sukses

Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword […] – Eks 8:15

GESELSVRAAG:

Wat sal mense oortuig dat God lewe?

“Ai, ek wens God kan sy almag op so ’n manier openbaar dat alle ateïste sal besef Hy bestaan,” het jy seker ook al gewens en oor gewonder. Sou dit dinge nie baie vereenvoudig nie? Sien is mos glo. Of is dit?

Die Egiptiese godin van vrugbaarheid, Heket, is voorgestel as ’n vrou met die kop van ’n padda. Paddas is daarom as heilig beskou en mag nie doodgemaak word nie. Dit het dus vir die farao en sy mense ’n baie groot probleem geskep toe hul land op Moses se woord deur paddas oorstroom is. Lees net die humoristiese beskrywing van hierdie plaag. En die farao se towenaars het die saak net vererger! Die farao kon self kies wanneer God Moses se gebed moes verhoor. En dit het so gebeur. Wie kon dan nog twyfel dat die Here almagtig is? Maar die farao wou hom nog steeds nie bekeer nie. En dit nadat hy Moses laat roep en gevra het dat hy tot die God van Israel moet bid.

Sonder ’n grondige hartsverandering kan mense nie verander nie. Jy moet weergebore word. Net die Heilige Gees is in staat om mense van binne af uit te verander. Ons lewe en woorde kan hulle probeer oortuig, maar uiteindelik is dit God self wat die wonder laat gebeur. Die farao was nog nie gewillig om sy selfsug prys te gee en voor die ware God te buig nie.

GEBED:

Here Jesus, verhoed tog dat ek my hart teen U verhard.

Lees vanaand in Eksodus 8:16-19 hoe muggies die vinger van God geword het. Wie is dan nog te klein om gebruik te word?

Uit die beek 2014

Подняться наверх