Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 8

Donderdag 2 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 2:1-10

Оглавление

Alles vir ’n doel

[…] Sy het hom Moses genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.” – Eks 2:10

GESELSVRAAG:

Hoe wil die Here vanjaar deur my werk?

“Getafix, gee my weer van jou toormiddel daar,” vra Asterix in die bekende strokie. Die toormiddel het hom oneindig sterk gemaak sodat hy sy missie met sukses kon voltooi. Miskien voel jy ook dat jy so iets nodig het, wanneer jy dink aan die uitdagings wat vanjaar vir jou wag. Maar die Bybel leer ons dat God op ander maniere met mense werk.

Toe Hy besluit het om die gebede van die verdrukte Israeliete te verhoor, het hy ’n seuntjie aan twee eenvoudige mense uit die stam van Levi gegee. Hy het omstandighede en mense gebruik om die kind te beskerm en te sorg dat hy die beste opleiding aan die hof van die farao kon kry. Hy moes leer dat geweld geen oplossing is nie. Maar hy het boonop ’n woestyntyd nodig gehad voordat hy gereed was vir sy eintlike roeping.

Dit is nie toevallig wie se kinders ons elkeen is nie. Dit is ook nie toevallig wat alles met ons gebeur het, en watter voorregte ons geniet nie. Dit is alles om ons te vorm vir die spesiale werk wat die Here vir ons elkeen in gedagte het. Hy wil jou en my toerus en in hierdie jaar gebruik. Ons moet dus ons oë oophou om God se geleenthede raak te sien. Hy wil ons gebruik om mense te help en die wêreld ’n beter plek te maak.

GEBED:

Dankie dat U ook vir my ’n spesiale werkie het, Here.

Lees vanaand in Eksodus 2:11-25 hoe dit gebeur het dat Moses sy tweede veertig jaar in die woestyn deurgebring het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх