Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 7

Woensdag 1 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 1:1-14

Оглавление

Nuwejaarsdag

Verrassende groei

Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei […] – Eks 1:12

GESELSVRAAG:

Wat sal die getal gelowiges in ons land die vinnigste laat aangroei?

“Mag jy in 2014 veel verdrukking en vervolging ondervind!” Nee, ek dink nie enigeen van ons sal vandag ons vriende en familie dít toewens nie. Ons praat eerder van ’n voorspoedige nuwe jaar. Maar wat bedoel ons daarmee? Net dat dit finansieel goed moet gaan? Of bedoel ons eintlik dat dit geestelik goed met ons moet gaan? Vreemd genoeg gaan dié twee nie dikwels saam nie. Dit is juis as dit met ons sleg gaan, dat ons geestelik begin groei. Dan leer ons die Here waarlik ken en vertrou. Dan leer ons bid en mekaar uit die Woord bemoedig.

Die nuwe farao wat ná vier eeue niks meer van Josef geweet het nie, het ook nie meer die beloftes van die farao van daardie tyd as bindend beskou nie. Die Israeliete was vir hom ’n bedreiging; daarom het hy begin om hulle te verdruk. En die gevolg was net mooi die teenoorgestelde van wat hy wou gehad het!

“Moenie bid dat ons vervolging moet ophou nie,” vra ’n Chinese kerkleier. “Bid net dat ons standvastig sal bly in tye van vervolging.” Die kerk in China het honderdvoudig gegroei sedert die Kommuniste begin het om die Christene te verdruk en dood te maak. Sal Christenvervolging in ons land ook goeie gevolge hê?

GEBED:

Here, help ons om vanjaar geestelik te groei.

Lees vanaand in Eksodus 1:15-22 hoe die Here die doodmaak van die seuntjies verhoed het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх