Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 39

Saterdag 1 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 23:14-19

Оглавление

Die mans gaan voor

Drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here God, verskyn. – Eks 23:17

GESELSVRAAG:

Hoe kan ons meer mans by die kerk betrokke kry?

“In die meeste gemeentes in Afrika maak vroue seker 80% van die lidmatetal uit,” merk ’n mede-sendeling op. Hy reken die rede daarvoor is dat die mans nie tot bekering mag kom nie, want hulle is die kontakpersone met die voorvadergeeste. Die geesteswêreld is ’n groot werklikheid in Afrika. Wanneer jou voorvadergeeste voel jy skeep hulle af, kan daar groot rampe oor jou kom, glo hulle.

In die Bybelse tye was dinge anders. Die mans was die kontakpersone met die Here. Hulle was elkeen die priester van sy huis; daarom moes hulle in al die godsdienstige handelinge leiding neem. Alle mans moes drie keer elke jaar vir ’n godsdienstige fees bymekaarkom. Net soos die Mighty Men wat in hul tienduisende saamtrek om in primitiewe omstandighede die Here opnuut te leer ken, so was die mans drie keer elke jaar herinner aan hul verpligtinge teenoor hul gesinne en hul God.

“Sakemanne kom nie kerk toe nie. Hulle stuur net hul vroue en kinders daarheen. Hulle is self te besig om geld te maak. Hulle het nie tyd vir die Here nie,” merk ’n Christen-sakeman teenoor my op. Dit is darem baie jammer. Wat leer hulle aan hul kinders deur hul voorbeeld? Dat geld belangriker is as die ewigheid? Kom ons bid dat ons mans se prioriteite regkom.

GEBED:

Here, lei ons mans sodat ons die regte leiding kan gee.

Lees vanaand in Eksodus 23:20-33 die beloftes van voorspoed en seën as die Israeliete net gehoorsaam sou wees.

Uit die beek 2014

Подняться наверх