Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 54

Sondag 16 Februarie 2014 Lees eers Psalm 128:1-6

Оглавление

Die vrug van gehoorsaamheid

Kyk, so word die man geseën wat die Here dien. – Ps 128:4

GESELSVRAAG:

Watter soort seën het ons van die Here nodig?

“Ek sal my bekeer as ek eers oud geword het. Nou wil ek eers my lewe geniet,” is die onuitgesproke voorneme van baie jongmense. Hulle besef nie dat hierdie keuse die pad van die dood is nie. Sonder God het jy nie ’n toekoms nie. Ware vreugde lê nie in ’n losbandige lewe nie, maar in oorgawe en gehoorsaamheid.

Hierdie pelgrimslied skilder ’n beter prentjie. Die geheim van ware voorspoed is om die Here te dien. Letterlik staan daar: om die Here te vrees. Dit loop uit op gehoorsaamheid. So iemand is gelukkig in sy werk (Ps 128:2) en in sy huisgesin (Ps 128:3). Die psalm sluit af met ’n pragtige gebed wat ons gerus vir mekaar kan aangee (Ps 128:4-6). Is dit nie wonderlik om in so ’n familie groot te word nie!

So dikwels dink ons aan seën as iets wat net geestelik is. Of dalk het dit met ’n goeie oes of baie geld te doen. Maar dit het ook baie met ons gesondheid, gesindheid en gesin te doen. Dit is mos lekker om ’n kind van die Here te wees! Watter groter seën kan daar wees as dít?

Daarom kan ons ook daarna uitsien om vandag saam met die ander kinders van die Here bymekaar te kom, ons Vader te loof en sy liefde, toerusting en opdragte te ontvang. Ons kan mekaar bemoedig en ondersteun in die stryd van elke dag. Ons hoef nie ons laste alleen te dra nie.

GEBED:

Dankie dat U ons so onverdiend seën, hemelse Vader.

Lees vanaand in Psalm 129:1-8 waarom ’n gelowige kan moed hou in tye dat hy of sy dit nie maklik het nie.

Uit die beek 2014

Подняться наверх