Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 53

Saterdag 15 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 32:11-20

Оглавление

Kragtige voorbidding

Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring. – Eks 32:14

GESELSVRAAG:

Wat is die geheim van kragtige gebed?

“Ek is regtig moedeloos en depressief oor ons gemeente,” bely ’n kollega. “Ek was al baie dae lus om my hoedjie te vat en te loop.” Wanneer mense so moedeloos kan raak, dink net hoe moet die Here oor ons voel wanneer ons Hom so dikwels teleurstel. Hy het ’n wonderlike plan met sy kerk om die hele wêreld deur hulle te seën. Maar elke keer word hulle selfsugtig met hul liefde en gee hulle geensins om vir die miljoene mense wat nog verlore gaan nie.

Moses het nou die wonderlike tyd saam met die Here deurgebring. Dit was vir hom soos ’n besoek aan die berg van verheerliking. En toe vertel die Here hom dat Hy die volk gaan uitdelg omdat hulle afgode gemaak en losbandig gelewe het. Moses het toe vir sy volk ingetree. Hy het die Here aan sy beloftes herinner en aan die verbond en aan wat die ongelowiges sou sê as die Here sy volk vernietig. Menslike argumente is swak, maar God se eer was op die spel; daarom het Hy Moses se gebed verhoor en die volk nie vernietig nie. Maar dit het nog nie gekeer dat Moses self woedend geword het toe hy sien wat aangaan nie (Eks 32:19).

Die Here hou daarvan wanneer ons Hom aan sy beloftes herinner (Jes 62:6). Dit gee krag aan ons gebede. Oefen dus om Skrifgebede te bid en vertrou die Here om sy wil uit te werk.

GEBED:

Leer my om so te bid dat dit ’n verskil maak, Vader.

Lees vanaand in Eksodus 32:21-35 oor Aäron se flou verskonings en hoe Moses die volk gestraf het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх