Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 48

Maandag 10 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 28:31-43

Оглавление

Aan die Here gewy

Jy moet ’n blom van suiwer goud maak en daarop, soos op ’n seëlring, graveer: Aan Die Here Gewy. – Eks 28:36

GESELSVRAAG:

Wat kan ons hierdie week aan die Here wy?

Soli Deo Gloria (Net tot God se eer) staan op een van ons muntstukke gegraveer. Het jy dit al opgelet? Watter een is dit? Ja, dit is die R1-stuk. Al dink ’n mens soms dat geld die bron van alle euwels is, het iemand die wysheid gehad om elke rand aan die Here te wy. Net soos Jesus vir die Jode gesê het dat die keiser sy deel moet kry omdat sy gesig en naam op die muntstuk verskyn, so moet God ook sy deel van ons begroting kry omdat sy Naam op ons geldstukke staan. Stem jy saam?

In vandag se gedeelte het ons verder gelees hoe die hoëpriester se klere moes lyk. Die 1983-vertaling praat van ’n goue blom. Die ander vertalings praat deurgaans van ’n goue plaat, met een uitsondering wat van ’n roset praat. Maar die belangrike ding is dat die woorde “Aan die Here gewy” oftewel “Heilig aan die Here” daarop gegraveer is. Hierdie versiersel was vir die tulband van die hoëpriester bedoel. In vers 38 word verduidelik dat hy die volk verteenwoordig het. Die volk moes aan die Here gewy wees. Dit was die teken dat die Here teenoor hulle goedgesind is.

Kom ons wy onsself met alles wat ons het hierdie week aan die Here. Ons behoort volledig aan Hom, want Christus het ons deur sy eie bloed vrygekoop, sodat ons Hom voluit kan dien.

GEBED:

Ek wy myself, my gesin en besittings aan U, Here.

Lees vanaand in Eksodus 29:1-14 hoe die priesters hul aan die Here gewy het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх