Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 57

Woensdag 19 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 34:21-35

Оглавление

Blink gesig

Toe hy van Sinaiberg af gaan […] was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie. – Eks 34:29

GESELSVRAAG:

Wanneer sê ons iemand se gesig skyn?

“Ai, my dogter het so ’n blink gesiggie, maar sy gebruik geen grimering om dit reg te stel nie,” kla ’n vriendin. Nou wie het besluit dat ’n dowwe gesiggie die regte voorkoms is? “Die beste grimering vir ’n vrou is ’n glimlag,” lees ek in ’n e-posboodskap. Maar hoe het Moses se gesig geblink? Silwer? Goud?

“Sy gesig het horings gehad,” sê die Latynse Vulgaat Bybel by hierdie vers. Die vertalers wou seker iets sê van ligstrale wat uit sy gesig geskyn het. Die gevolg was egter dat Michelangelo vir Moses met twee verspotte horings uitgebeeld het! Die gedagte was seker ook nie dat Moses se gesig geblink het van die sweet nadat hy die twee swaar klippe tot op die berg en weer af gedra het nie. Dit sou nie genoeg wees om Aäron en die volk bang te maak nie. Paulus skryf hieroor: “Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie” (2 Kor 3:7). Dit was duidelik vir almal dat Moses ’n ware ontmoeting met die Here gehad het.

Ek onthou nog goed die nag toe my skoolvriend Freddie sy lewe aan die Here oorgegee het. Die volkome vrede op sy gesig was so totaal anders as die bekommerde uitdrukking waarmee hy by ons huis opgedaag het. God verander selfs jou gesig!

GEBED:

Here, laat elkeen vandag op my gesig sien dat ek by U was.

Lees vanaand in Eksodus 35:1-9 hoekom die dankoffers van die Israeliete nodig was om die tabernakel te bou.

Uit die beek 2014

Подняться наверх