Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 58

Donderdag 20 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 35:10-29

Оглавление

Vrywillige gawes

Elke Israelitiese man en vrou wat vrywillig iets wou bring vir die werk wat die Here vir Moses beveel het om te doen, het dit vir die Here gebring. – Eks 35:29

GESELSVRAAG:

Wat maak dat ’n mens graag vir die kerk gee?

“’n Mens praat nie oor geld in die kerk nie, al praat ons op elke ander plek daaroor,” is die gevoel van die meeste lidmate. Ons voel ongemaklik as die dominee oor ons dankoffers praat. Tog is ons bydraes vir die Here so belangrik dat Hy kyk wat elkeen gee (Mark 12:41). “Dit lyk my die lidmate dra ruim by as dit vir ’n spesifieke projek is,” noem een van ons leraars toe ons geld vir dakplate vir kerkgeboue in Malawi ingesamel het.

Die tabernakel was ’n projek wat die volk opgewonde gemaak het. Hulle wou die Here daardeur eer. Hulle het ruim bygedra met die goue versierings wat hulle destyds by die Egiptenaars gekry het. Maar elkeen wat kon houtwerk doen of bokhaar kon spin of watter kunsvorm ook al beoefen, het sy en haar deel gedoen. Dit was heerlik om saam te werk.

So het ons dit ook ervaar toe ’n gemeente in die VSA uitgedaag is om twee vraghouers aan te koop en dit in klaskamers te omskep en na Suid-Afrika te verskeep. Aan hierdie kant het ons die houers in ontvangs geneem, die vensters en deure ingesny, dit klaar geverf en die houers geplaas en saamgevoeg. So het ’n pragtige bewaarskool tot stand gekom waar daar eers net ’n geroeste sinkkrot gestaan het. Dis lekker om saam vir die Here te werk!

GEBED:

Wys my hoe ek ook in u diens kan staan, Here.

Lees vanaand in Eksodus 35:30 – 36:1 hoe die knap vakmanne hul kennis en ervaring in die Here se diens gestel het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх