Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 61

Sondag 23 Februarie 2014 Lees eers Psalm 130:1-8

Оглавление

Wag op die Here

Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. – Ps 130:6

GESELSVRAAG:

Wanneer is dit nodig om op die Here te wag?

“Ek bid nog daaroor of ek vandag kerk toe moet gaan,” sê ’n dametjie in Pretoria toe ek haar saamnooi kerk toe. Vir my was dit nie ’n kwessie nie. Ons mag mos nie die samekomste van die gemeente misloop nie (Heb 10:25). (Tensy jy natuurlik ’n duidelike opdrag van die Here het om iets anders te doen.)

In hierdie psalm moedig die Jerusalemgangers mekaar aan. Ons hoef nie te wag vir vergifnis nie. Die Here Jesus het reeds vir ons vergifnis voorsiening gemaak. Al wat Hy van ons vra, is dat ons ons sondes moet bely (1 Joh 1:9). Die psalm sê egter dat ons soms nodig het om te wag op die vervulling van God se beloftes (Ps 130:5). Hy gebruik die voorbeeld van die wagte wat dwarsdeur die nag op wag is en verlang dat die donker nag verbygaan. Maar al wag ons op die Here, hoef ons nie te twyfel dat Hy die uitkoms sal gee nie. By Hom is die verlossing seker!

Dalk is dit nie ons wat vir die Here moet wag nie. Dalk is dit Hy wat op ons wag. Ons is tog so besig met ander dinge dat ons nie die belangrikste afspraak van almal nakom nie. Kan dit wees dat die Here vandag ’n belangrike ontmoeting vir ons gereël het? Wanneer ons nie daar is nie, gaan dit ’n groot verlies wees. Ja, ons kan Hom by die huis ook ontmoet – maar dalk wil Hy vandag deur iemand anders met ons praat. Kom ons wag op Hom!

GEBED:

Here, ek het U nodig. Ek wag op u stem.

Lees vanaand in Psalm 131:1-3 hoe Dawid getuig van die rus en kalmte wat hy by die Here gevind het deur op Hom te wag.

Uit die beek 2014

Подняться наверх