Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 64

Woensdag 26 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 39:1-14

Оглавление

Ampsklere

[…] Soos die Here vir Moses beveel het, het hulle vir Aäron ampsklere gemaak en dit gewy. – Eks 39:1

GESELSVRAAG:

Wat is die nut van ampsklere in die kerk?

“As ’n swart pak met ’n wit das goed genoeg was vir Jesus en sy apostels, is dit goed genoeg vir my!” skerts iemand toe ons oor ampsgewade gesels. En dit laat ’n mens dink. Jesus en sy apostels het dit nie nodig gevind om ongewone klere te dra nie. Hulle het soos al die ander mense aangetrek. Miskien is dit daarom dat die “sweetpak” (toga) al hoe minder in die erediens gesien word. Die meeste kerkraadslede trek deesdae nes gewone mense aan. Dit gaan nie meer oor eie eer nie, maar oor die Here. Sedert die tyd van die hervorming was die toga ’n teken van geleerdheid – maar wat het dit met die kerk te doen?

“Toe ek ons lidmate in Jaffna gaan besoek het, het ek die kleed van ’n Roomse priester-vriend geleen om aan te trek in die hoop dat die terroriste nie op my sal skiet nie,” vertel ds. Rajakumar Thurairajah van Sri Lanka. Dit het waarskynlik gehelp, want hy het die huisbesoek in die tyd van die burgeroorlog oorleef. Ampsdrag het dus wel waarde. ’n Verpleegster kan aan haar uniform uitgeken word, en ’n polisieman of soldaat ook.

Die Christen se uniform lyk anders, maar ons het dit net so nodig. God het ons ’n wapenrusting gegee om ons staande te hou in tye van versoeking (Ef 6:13-18). Kom ons dra dit vandag.

GEBED:

Here, help my om voor elke stryd my wapenuitrusting aan te trek.

Lees vanaand in Eksodus 39:15-31 hoe indrukwekkend die drag van die priesters in daardie tyd was.

Uit die beek 2014

Подняться наверх