Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 52

Vrydag 14 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 31:1-18

Оглавление

Vaardigheid

[…] Aan elke vakman het Ek vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het […] – Eks 31:6

GESELSVRAAG:

In watter soort werk is vaardigheid nodig?

“Wat maak julle hier?” vra ’n besoeker aan ’n groep mans wat klippe kap. “Ons kap elke dag net klippe,” sê die eerste een. “Ons swoeg hier in die hitte om vir ons gesinne te sorg,” antwoord die tweede. “Ons bou ’n katedraal vir die Here,” kondig die derde trots aan. Jy kan raai hoe die gehalte van werk waarskynlik verskil het. Vir die Here is net die beste goed genoeg.

Die Here het Besaleël en Oholiab lank reeds vir hierdie groot werk voorberei. Hulle het jare lank as vakleerlinge gewerk en moes by die eenvoudigste en nederigste werk begin. Maar nou was hulle meesters in hul vak. Hulle het presies geweet hoe om die ingewikkelde boumateriaal vir die tabernakel voor te berei sodat elke stukkie presies op sy plek kon pas. Hulle was kunstenaars uit eie reg, wat weefwerk en kunsnaaldwerk van die hoogste gehalte kon lewer. Hulle kon met kosbare metale toor om die pragtigste voorwerpe te skep. Hulle kon trots wees op hul werk.

Met elke ding wat ons vandag gaan doen, is vaardigheid nodig. Die manier waarop ons dit doen, en ons gesindheid gaan mense na Christus toe aantrek of afstoot. Onthou, dit is die Here wat jou toerus om jou werk goed en reg te doen. Moenie Hom teleurstel nie. Jou werk is ook jou getuienis.

GEBED:

Laat my werk vandag tot u eer wees, Here.

Lees vanaand in Eksodus 32:1-10 hoe vinnig die volk die Tien Gebooie vergeet het en amper vir dié rede uitgewis is.

Uit die beek 2014

Подняться наверх