Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 49

Dinsdag 11 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 29:15-28

Оглавление

Geheilig vir die Here

[…] Dan sal hy en sy klere, en sy seuns en hulle klere gewy wees. – Eks 29:21

GESELSVRAAG:

Wat verstaan jy onder die woord “heilig”?

“Heilige Dawid” was die bynaam van wyle prof. Dawid de Villiers. Hoe sou jy daarvan hou as mense jou die bynaam “Heilige (jou naam)” sou gee? Sou dit gepas wees, of sou hulle dit tong-in-die-kies gebruik? As ons vandag sê iemand “hou hom heilig” dan bedoel ons waarskynlik dat hy ’n huigelaar is. Hy is nie eg nie. Hoe anders as wat die Here dit bedoel het.

Ons het vandag gelees hoe Aäron en sy seuns vir hul amp afgesonder is. Die hele seremonie moes wys dat hierdie mense volledig in die Here se diens staan. Die bloed was die teken dat hulle sondes deur die offers weggeneem is, sodat daar niks tussen hulle en God sou wees nie. Nou kon hulle met vrymoedigheid vir die volk gaan intree.

Maar wat bedoel die Here wanneer Hy sê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet 1:16)? Beteken dit sondeloos? In God se geval is dit waar, maar dit is net in Christus dat ons ooit dit kan waag om te sê dat ons sondeloos is. “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees,” vermaan Petrus ons (1 Pet 1:15). Ons moet volledig aan die Here gewy wees. Ons staan vandag in sy diens, net so volledig soos wat Aäron in daardie tyd aan die Here gewy was.

GEBED:

Here, leer my hoe om waarlik aan U toegewy te wees.

Lees vanaand in Eksodus 29:29-37 hoe voorsiening gemaak is vir die opvolgers van die eerste hoëpriester en priesters.

Uit die beek 2014

Подняться наверх