Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 74

Donderdag 6 Maart 2014 Lees eers Markus 2:23-28

Оглавление

Die Here van die rusdag

[…] Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die sabbatdag gedoen mag word nie? – Mark 2:24

GESELSVRAAG:

Wat mag ’n mens alles op ’n Sondag doen? En wat nie?

“Jy mag nie op ’n Sondag hekel of brei nie, want dan steek jy ’n naald in God se oog!” is ons oumas geleer toe mense die rusdag nog met groter erns as vandag bejeën het. Die Fariseërs het ook regtig hard probeer om aan die wet gehoorsaam te wees. Hulle is geleer jy mag nie op die Sabbat ’n vlooi vang nie, want dit is jag. Jy mag niks van ’n boom afpluk nie, want dit is oes. Wanneer ’n dier in ’n put val op die Sabbat, mag jy dit uithaal. Maar as ’n mens dit doen, moet hy daar bly, want hy moes van beter geweet het.

Jesus leer ons sulke gedagtes is belaglik. Dit gaan nie oor die dag nie, maar oor die mense. Die mense het die rusdag nodig, nie andersom nie; daarom is daar geen fout as die dissipels van die are pluk en uitvryf as hulle honger is nie. Daar is ook niks verkeerd daaraan om mense wat in nood is, te help nie, soos ons vanaand sal sien.

Die groot vraag is egter watter plek die Here van die Sabbat in ons beplanning inneem. Hy gee ons daardie rusdag sodat ons liggaamlik kan rus, maar ook geestelik verkwik kan word. Hy wil ons voorberei en toerus vir die uitdagings van die week wat voorlê. Dit is ’n dag van vreugde en uitreik na ander mense. Geniet dit!

GEBED:

Hemelse Vader, dankie dat U ons so ontwerp het dat ons een dag per week moet rus. Help my om dit reg te gebruik.

Lees vanaand in Markus 3:1-6 hoe haat die uiteenlopendste groepe kan bymekaarbring.

Uit die beek 2014

Подняться наверх