Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 86

Dinsdag 18 Maart 2014 Lees eers Markus 6:30-34

Оглавление

Vakansie!

[…] Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie. – Mark 6:31

GESELSVRAAG:

Hoekom het ons soms vakansie nodig?

“’n Predikant moet altyd sy vakansie vat. Al het hy dit nie nodig nie, dan het sy gemeente wel,” het oom Hannes graag geskerts. Deesdae verplig kerkrade hul leraars om verlof te neem, anders moet hulle volgens die jongste arbeidswetgewing uitbetaal word vir die ongebruikte rustyd.

Die apostels is uitgestuur as deel van hul indiensopleiding. So ’n tyd veroorsaak nogal heelwat stres, want jy werk elke dag met mense se probleme, en jy kom ook soms teenstand teë. Ná so ’n tyd van uitgee voel jy soos ’n uitgedroogde lap, al leer jy gou dat jy ook elke dag jou tenkie moet volmaak sodat jy meer het om uit te gee. Toe die dissipels terugkom, het Jesus eerste van alles vir hulle die kans gegee om te vertel wat alles gebeur het. Hierdie ontlonting (debriefing) is baie belangrik, of jy nou op ’n korttermyn- of langtermynuitreik was.

Die dissipels het seker uitgesien na hierdie tydjie van rus – en toe werk dit heel anders uit. Weg van die skare het daar al weer ’n ander skare gewag – almal mense wat die Here nodig gehad het. So het hulle geleer dat jou vakansie ook vrugbaar kan wees. En hulle sou sommer ’n paar baie belangrike lesse byleer. Ons het seker al geleer die Here is ook in ons vakansies met ons besig!

GEBED:

Dankie vir tye van rus, Here. Help my om dit ten beste te gebruik sodat selfs sulke tye tot u beskikking is.

Lees vanaand in Markus 6:35-44 hoe die Here in noodgevalle kan voorsien, wanneer ons alles gee wat ons het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх