Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 75

Vrydag 7 Maart 2014 Lees eers Markus 3:7-12

Оглавление

Jesus is die Seun van God

As mense wat van onrein geeste besete was, Hom sien, het hulle voor Hom neergeslaan en geskreeu: “U is die Seun van God!” – Mark 3:11

GESELSVRAAG:

Hoe is Jesus anders as ander godsdienstige leiers?

Sal die regte Jesus opstaan, asseblief? is die titel van ’n boek wat ’n rukkie gelede verskyn het. Daar was ’n groot debat oor wie Jesus werklik was. Sommige meen dat Hy net die buite-egtelike kind van ’n jong meisie was. Ander meen dat Hy ’n groot leermeester of profeet was, net soos Boeddha of Mohammed. Vir Markus was daar geen onduidelikheid nie – en ook nie vir die demone wat van sommige mense besit geneem het nie. Hulle het geweet dat Hy die Seun van God was en is.

Dit beteken natuurlik nie Hy was die produk van ’n buite-egtelike verhouding tussen God en Maria nie, soos sommige Moslems dink Christene glo. In die Bybel leer ons Hom ken as een Persoon van die Goddelike Drie-eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees. Hy is almagtig; daarom kon Hy die skare mense help wat agter Hom aan gegaan het. Hy het hulle genees en van demoniese magte bevry. En dan kon Hy maklik van die skare af wegkom en na die volgende dorpie gaan deur van ’n vissersboot gebruik te maak. Hy het nie roem gesoek nie. Hy het die mense wat Hy gehelp het, belet om daaroor te getuig. Sy tyd het nog nie gekom nie. Hy het eers heelwat later die groot opdrag tot getuienis aan sy volgelinge gegee. Dit is ook óns opdrag vandag.

GEBED:

Seun van God, ek aanbid U vir wie U is.

Lees vanaand in Markus 3:13-19 hoe Jesus twaalf apostels gekies het om op te lei. Let op hoe Hy hulle toegerus het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх