Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 80

Woensdag 12 Maart 2014 Lees eers Markus 4:26-32

Оглавление

God laat groei

[…] Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? – Mark 4:30

GESELSVRAAG:

Is jul gemeente besig om te groei of te krimp?

“Onthou, as jy die voorreg het om iemand na die Here te lei, is dit nie omdat jy so goed is nie. Jy is maar net ’n baie klein ratjie in ’n baie groot masjien,” het prof. Kolie ons herinner. “Baie mense voor ons het die grond biddend voorberei en die saaiwerk en die natmaak getrou gedoen. God het die groei gegee. Dit is nie die sekel wat die vrug gee nie!”

Enige boer is verstom oor die wonderwerke wat elke dag op die plaas gebeur. Die harde, droë mieliepit word ’n pragtige groen plant wat uiteindelik mieliekoppe produseer wat geoes kan word. In ’n geslote wit hoendereier ontwikkel wonderbaarlik ’n donsige kuikentjie sonder dat ons iets daaraan kan doen. ’n Enkele bevrugte selletjie, amper te klein om te sien, begin verdeel en word ’n pragtige lammetjie of kalfie of vulletjie of olifantjie – of mensie! Dit is mos God wat hier aan die werk is!

So, sê die Here Jesus, is die koninkryk van God ook besig om te groei. Dit groei nie net in die kerk nie, maar oor die hele wêreld. Elkeen van ons het ’n rol om te speel – by die huis en by die skool en op kampus en in die kantoor of winkel of op die plaas. Ons doen maar net ons deeltjie getrou, en God gee wonderwerke: nuwe mense!

GEBED:

Hemelse Vader, dit is net U wat sulke wonderwerke in mense se lewens kan laat gebeur. Gebruik ons ook in u groot plan.

Lees vanaand in Markus 4:33–41 hoe die dissipels ’n storm nodig gehad het om Jesus beter te leer ken.

Uit die beek 2014

Подняться наверх