Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 82

Vrydag 14 Maart 2014 Lees eers Markus 5:21-34

Оглавление

Die aanraking wat lewe gee

[…] Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” – Mark 5:30

GESELSVRAAG:

Wat is jou grootste geheim?

“Het iemand jou gemolesteer?” vra die berader vir die vrou wat hom kom sien het. En toe bars die damwal. Haar boetie het haar herhaaldelik as tienjarige meisietjie verkrag en sy het nog nooit met iemand daaroor gepraat nie. Dit het haar lewe totaal geknou. Eers toe sy oopmaak, kon die Here haar volkome herstel.

Die vrou in vandag se gedeelte het al twaalf jaar lank gely aan haar kwaal en is deur dokters behandel. Dit was ’n kwaal waaroor niemand gepraat het nie – sy kon tog nie openlik na die profeet gaan en vertel wat sy makeer nie. Die wet het haar dan belet om aan enigiemand te raak, want dit sou hulle ook onrein maak. So het sy in stilte gely en arm geword. Toe het sy van Jesus gehoor. Sy kon Hom nie aanraak nie, maar sy wou net aan sy klere raak. En toe werk dit! Sy wou toe dadelik weer in die skare wegsluip. Maar Jesus het haar net daar voorgekeer. Wat ’n skande om so betrap te word! Maar Hy wou haar net die sekerheid gee dat sy vir goed genees is. Dit was haar geloof in Hom, nie die klere nie, wat haar genees het.

Het jy ook iets waaroor jy so skaam is dat jy nog nooit vir iemand daarvan vertel het nie? Gaan jy nog steeds gebuk onder die las – daardie wond of letsel wat jou lewe vandag nog beïnvloed? Jesus is die regte persoon – Hy genees volkome – ook innerlik.

GEBED:

Here, wys my wat ek vandag aan U moet oorgee.

Lees vanaand in Markus 5:35-43 hoe Jesus Jaïrus se dogtertjie uit die dood opgewek en volkome laat herstel het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх