Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 77

Sondag 9 Maart 2014 Lees eers Psalm 133:1-3

Оглавление

Eensgesind

Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! – Ps 133:1

GESELSVRAAG:

Wat veroorsaak onenigheid in die gemeente?

“Stop! Sê gou eers julle teks op,” beveel my skoondogter. Sy het hierdie vers by haar kinders ingedril, en selfs “en susters” ingevoeg om dit meer van toepassing te maak. En dit lyk nogal asof dit help om die gewone onder­onsies tussen broers en susters gou te laat bedaar. Elke keer as daar ’n stryery is, moet hulle dit in ’n spreekkoor opsê!

Dit is doodnormaal wanneer daar stryery tussen kinders ontstaan. Elkeen leer nog om hom- of haarself te handhaaf. “Ma! Chris sit sy vinger op my kant van die sitplek.” So leer kinders om binne hul eie gesin te sosialiseer. Enkelkinders mis darem baie! Maar hierdie woorde is net so waar in die gemeente en in die ander kringe waarin ons beweeg. “Die Here het darem snaakse kindertjies,” merk ’n kollega op toe hy van sy gemeente vertel. Dit is nie so maklik om die belange van ander ook op die hart te dra nie. Soveel ongelukkigheid en seerkry is dikwels die gevolg van iets wat in die gemeente gebeur het. Dit hoort tog nie so nie!

Vandag kry ons die kans om aan hierdie eenheid te oefen. Kom ons kyk dus wat ons kan doen om eenheid te bevorder. Dit is baie maklik om ander se foute raak te sien en alles te kritiseer. Kom ons kyk eerder vandag wat alles reg loop en waaroor ons dankbaar kan wees. Ons is hier om mekaar te bemoedig vir die stryd van die week wat voorlê. Eendrag maak mag!

GEBED:

Here, gee vir ons eensgesindheid in ons huis en kerk.

Lees vanaand in Psalm 134:1-3 die seënbede wat destyds op pad na Jerusalem gesing is. Ons sing dit mos vandag nog.

Uit die beek 2014

Подняться наверх