Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 78

Maandag 10 Maart 2014 Lees eers Markus 4:1-9

Оглавление

Stories wat verryk

Hy het hulle baie deur gelykenisse geleer […] – Mark 4:2

GESELSVRAAG:

Watter storie steek by jou vas?

“Watter preek sal jy nooit vergeet nie?” het ek gereeld gevra wanneer ek kerkraadslede gehelp het om boodskappe voor te berei. Feitlik sonder uitsondering vertel hulle dan nie van ’n teks nie, maar van ’n illustrasie wat ’n prediker gebruik het wat in hul geheue vasgesteek het! Mense onthou eenvoudig stories makliker. Eeue lank was die stories wat om die kampvuur vertel is, die manier van onderrig. Sommige mense het eenvoudig die gawe om ’n storie so te vertel dat jy aan sy of haar lippe hang.

Jesus het ook hierdie metode gebruik. Hy het graag voorbeelde uit die alledaagse lewe gebruik om diep lesse duidelik te maak. En die mense het om Hom saamgedrom en sy stories geniet. Hulle het nie altyd mooi verstaan wat Hy bedoel het nie, en daarom het sy dissipels Hom soms agterna gevra wat die les is, soos ons sal sien.

Ons kry ook almal die geleentheid om stories te vertel. Is dit stories wat opbou of afbreek? Is dit sommer net skinderstories? Oppas – dit kan jou uit die koninkryk van God hou (1 Kor 6:10). Sulke stories doen groot skade. Kom ons oefen om goeie gelykenisse uit te dink. Hoe kan jy die voorbeeld van ’n motor, of ’n fiets, of ’n hond, of ’n vlieg gebruik om iets duidelik te maak? Hou jou oë oop vir dinge wat elke dag gebeur. Dalk het jy ook die gawe om stories só te vertel dat lewens daardeur verryk word.

GEBED:

Here, leer my om my stories in u diens te gebruik.

Lees vanaand in Markus 4:10-12 hoekom sommige mense soms nie die eintlike boodskap van ’n storie kan snap nie.

Uit die beek 2014

Подняться наверх