Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 76

Saterdag 8 Maart 2014 Lees eers Markus 3:20-30

Оглавление

Die onvergeeflike sonde

Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde. – Mark 3:29

GESELSVRAAG:

Wat verstaan jy onder die “onvergeeflike sonde”?

“Het ek nie dalk reeds die onvergeeflike sonde begaan nie? Is daar nog genade vir my?” is ’n vraag waarmee baie mense worstel wanneer hulle hierdie gedeelte lees. Maar as jou sonde jou nog pla, is dit tog ’n duidelike teken dat God nog nie met jou klaar is nie. Die Heilige Gees oortuig jou nog van sonde. God het nie sy rug op jou gekeer nie. Daar is nog hoop vir volkome vergifnis (Mark 3:28).

Die gevaarlikste sonde is egter om die duidelike werk van die Heilige Gees as werke van die duiwel te beskryf. Die skrifgeleerdes het Jesus se werk aan die duiwel toegedig (Mark 3:22). Ten spyte van al die duidelike getuienis en bewyse het hulle halsstarrig geweier om te erken dat Jesus werklik die Messias was. Hy was dan so anders as wat hulle verwag het. Ons moet tog ook versigtig wees om sommer verskynsels wat anders is as waaraan ons gewoond is, aan die duiwel toe te skryf. Die Here werk soms heel anders as wat ons verwag.

Worstel jy dalk vandag nog met sondes uit jou verlede? Onthou, die Bybel sê duidelik dat alle sondes vergewe kan word. Daardie egbreuk, diefstal, moord, leuens, aborsie of watter sonde jou ook al ry, kan volkome vergewe word. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor 5:17). Jy begin ’n nuwe lewe, skoon en vry!

GEBED:

Dankie dat U al my sondes vergewe, Here Jesus.

Lees vanaand in Markus 3:31-34 hoe Jesus se familie baie groter is as net sy biologiese moeder en broers.

Uit die beek 2014

Подняться наверх