Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 83

Saterdag 15 Maart 2014 Lees eers Markus 6:1-6

Оглавление

Beperk jy die Here?

Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. – Mark 6:5

GESELSVRAAG:

Watter wonderlike dinge sien ons dikwels nie raak nie?

“’n Mens kan so gewoond raak aan die evangelie dat jy dit nie meer hoor nie.” Baie mense het in die kerk grootgeword en ken die Bybelstories van kleins af. Dis ou nuus. Dit maak ons nie meer opgewonde nie. Maar mense wat anders grootgeword het, vind die evangelie wonderlik.

So was dit ook in Kapernaum, waar Jesus grootgeword het. Sy eie bure en kennisse was verstom oor wat Hy hulle in die sinagoge geleer het. Hulle het ook gehoor van die wonderwerke wat Hy gedoen het. Hoe kan dit wees – Hy is dan die bekende timmerman wat handewerk vir hulle gedoen het? Sy familie is goed bekend. Hy het tog nie universiteitsgrade of baie geld gehad nie. Hulle wou niks van Hom weet nie (Mark 6:3). Ons lees net van twee keer dat die Here Jesus verbaas of verwonderd was. Die een keer was oor die geloof van ’n Romeinse offisier (Luk 7:9). Die ander keer was hier, oor die ongeloof van mense wat Hom goed geken het.

Watter soort lidmaat is jy? Is jy iemand wat die Here ken en dien, wat vol geloof is om dinge vir die Here te doen? Verwag jy groot dinge van die Here, of is jy dalk ook een van die bekendes wat niks van die Here verwag nie, omdat Hy vir jou ou nuus is?

GEBED:

Here Jesus, ek moet bely dat U nie altyd vir my wonderlik is nie. Raak my aan, sodat my geloof vars kan wees.

Lees vanaand in Markus 6:7-13 hoe Jesus sy dissipels praktiese opleiding gegee het. ’n Mens leer deur te doen.

Uit die beek 2014

Подняться наверх