Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 71

Maandag 3 Maart 2014 Lees eers Markus 1:21-31

Оглавление

Jesus die leraar

[…] Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God! – Mark 1:24

GESELSVRAAG:

Wat dink vandag se mense van Jesus Christus?

“Van die studente het by die hoof gaan kla dat ek hulle nie respekteer nie en teen hul sondige verhoudings preek,” vertel ’n geestelike werker. Sy was glad nie bewus van die sondige verhoudings wat daar aan die gang was nie. Sy het net ’n paar Bybeltekste gelees en die Heilige Gees het dit toegepas. En die feit dat hul sonde hulle begin pla het, is tog ’n duidelike teken dat God met hulle besig is.

So het Jesus daardie Sabbatdag in die sinagoge van Kapernaum begin leer. In die gemeente was ’n mens wat van ’n onrein gees besete was, en hy het luidkeels beswaar aangeteken. Die uiteinde was dat hy van die gees bevry is. Dit is duidelik dat Jesus met gesag gepraat het – selfs die bose geeste moes gehoorsaam (Mark 1:27). Waar Jesus werk, gaan dinge nie altyd so rustig soos waaraan ons gewoond is nie! Jesus is baie sterker as enige onrein gees. Later die middag het Hy aan Petrus se siek skoonma geraak en haar ook heeltemal gesond gemaak (Mark 1:31). Waar Jesus kom, gebeur dinge.

Hierdie Jesus was beslis ’n ongemaklike mens om mee te doen te kry, want waar Hy gekom het, het hy mense ontstel en hul lewens verander. Maar is dit nie presies wat ons land nou nodig het nie? Ons het ’n bood­skap gekry oor iemand wat lewens verander. Met wie het jy al hierdie boodskap gedeel? Of hou jy dit net vir jouself?

GEBED:

Here Jesus, U het alle mag in die hemel en op aarde. Kom verander ook die mense wat hier om my woon. Begin by my.

Lees vanaand in Markus 1:32-39 hoe Jesus vir mense omgee – ook vir dié wat nog nie van Hom gehoor het nie.

Uit die beek 2014

Подняться наверх