Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 79

Dinsdag 11 Maart 2014 Lees eers Markus 4:13-20

Оглавление

Vrugbaar luister

Die saaier saai die woord. – Mark 4:14

GESELSVRAAG:

Waaroor het verlede Sondag se preek gegaan?

“Sjoe! Dit was ’n bom-boodskap!” merk ’n mede-student op terwyl ons by die Studentekerk uitstap. Dit het my verstom, want ek het self daar uitgestap met die gedagte dat daar darem vanaand niks aangegaan het nie. Hoe kan dieselfde boodskap vir die een tot seën wees en vir ’n ander nie? Miskien wil die Here Jesus deur vandag se gelykenis ’n belangrike les aan ons oordra. Die verskil lê nie soseer by die Prediker nie, maar by die ontvanger.

Die verskil van die vrug het nie in die saad gelê nie. Die saad was dieselfde. Die verskil was in die voorbereiding van die grond. Jesus sê sommige mense se harte is soos ’n pad – kliphard en vasgetrap. Satan neem die saad weg voordat enigiets kan gebeur. Die saad in die klipbanke word wel met vreugde aanvaar, maar gou weer verloor, sodra daar vervolging of beproewings kom. Dit kom nie by vrug dra uit nie. Die saad tussen die onkruid verwys na die baie dinge wat ons aandag van die Here aftrek: bekommernis, of besittings of begeertes na ander dinge – wat soms nie eens sondig is nie. Die vrugbare grond was goed voorberei. Die maat van sukses is of dit vrug dra – kan dit voortplant? Word dit meer?

Wees nou eerlik. Hoe was jou hart verlede Sondag? Wat het die afgelope twee dae met daardie saad gebeur? Hoe kan jy jouself beter voorberei vir volgende Sondag?

GEBED:

Berei my hart deeglik voor vir u Woord, Here Jesus.

Lees vanaand in Markus 4:21-25 en kyk of jy die boodskap van die lamp en die maatemmer reg verstaan.

Uit die beek 2014

Подняться наверх