Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 81

Donderdag 13 Maart 2014 Lees eers Markus 5:1-13

Оглавление

Hopeloos?

Hy was dag en nag aan die skreeu tussen die grafte en in die berge, en dan kap hy homself met klippe. – Mark 5:5

GESELSVRAAG:

Hoe doen mense hulself deesdae skade aan?

“Bid vir my man, dat die Here hom van die drank sal bevry,” skryf ’n vrou op die internet. Sy het al alles probeer, maar niks het gehelp nie. Sy huwelik was op die rotse. Sy kinders het hom gevrees. Hy het sy werk verloor. Hy het al motorongelukke veroorsaak deur dronk te bestuur. Net die Here kan hom nog help.

Legio was eens op ’n tyd ook deel van ’n gesin, want Jesus het hom uiteindelik terug na hulle toe gestuur. Ons kan ons indink hoe bekommerd en ontsteld die gesinslede was toe hulle sien hoe hul geliefde man, broer en pa van kwaad na erger gaan. As jy die duiwel vatplek gee in jou lewe, gaan dit altyd sleg met jou. Vra maar enigiemand wie se geliefde in die kloue van alkohol of ander dwelms beland het. Almal sien hy het hulp nodig, behalwe hy self. Selfs kettings en boeie kon hom nie meer beheer nie. En sodra hy losgebreek het, het hy homself beseer deur homself met klippe te kap. Die duiwel het sy lewe volledig beheer. Totdat Jesus gekom het.

Miskien sien jy iets van Legio in jouself of in die lewe van ’n geliefde. Met Jesus in die omgewing is alles nog nie verlore nie. Diep in sy hart het Legio nog gehoop vir bevryding – ons lees dat hy nader gehardloop en voor Jesus neergeval het. Dít is die regte plek vir iemand wat waarlik vry wil wees (Joh 8:36).

GEBED:

Here, ons bid vir ons geliefdes in die mag van die bose.

Lees vanaand in Markus 5:14-20 hoe mense soms dom keuses maak en hoe een mens ’n verskil in ’n hele streek kan maak.

Uit die beek 2014

Подняться наверх